HULDEBLYK AAN MARTHINUS BEUKES


– MY EERTYDSE AFRIKAANSE ONNIE

Mnr. Beukes,


Ek’s so jammer! Ek’t nou eers gehoor jy’s dood! Ek tjank so ek kan nie kyk waar ek tik nie, maar gelukkig het ek tik op skool gehad so ek kan toe oë tik, dankie tog. Want ek moet groet en die wêreld (of dan soveel mense as wat ek op Facebook kan bereik) vertel van die amazing mens en onnie wat jy was. Ek’s jammer vir die Engelse woorde tussenin, maar soos jy tydens ons 20 jaar reünie gesê het, die feit dat ons taal deurspek word met Engelse woorde is “inevitable” – terwyl jy die Engelse woord ‘in hakies’ sê met jou vingers. (Ek het nie ’n idee hoe voel jy oor emoticons nie, maar hulle is ongelukkig ook onafwendbaar en seker maar ’n ‘necessary evil’ – of iets in der voege )


Tydens die reünie het jy gesê ek moet jou asseblief Marthinus noem en nie ‘Mnr. Beukes’ nie. En dit was maklik. Ander ‘menere’ van hoërskool sal net dit bly, menere. Jy was geeneen van hulle nie. Marthinus, jy was baie spesiaal. Ek het langs jou gesit daardie aand met die reünie en vir jou in woorde probeer verduidelik hoe jy my horisonne verbreed het met jou passie vir woorde. Ek’t Afrikaans as vak gehaat, maar om by jou van poësie en prosa te kon leer was ’n voorreg waarvoor ek so ongelooflik dankbaar is. Ek belowe dit was nie net omdat ons kon broodjies eet in jou klas nie! En ek is so bly ek kon in 2010 vir jou dankie sê daarvoor. My ‘roman’ wat ek jou daardie aand belowe het ek sal klaar skryf, is nou eers 50000 woorde lank, maar ek sál hom klaarmaak, ek belowe. Ter nagedagtenis aan jou en my vriend, Andries, wie net so gek was oor Afrikaanse prosa en poësie, en ook heeltemal te vroeg oorlede is.


Marthinus, ek sal nooit vergeet toe jy my een pouse ingeroep het na ons ’n poësie-opdrag moes inhandig die vorige week nie. Jy het voor my kom sit, my diep in my oë gekyk het en gesê: “Meisiekind, jy het baie, baie seergekry né?” Al wat ek kon doen was om my kop te knik en af te kyk - en toe rol die trane. Na ’n paar minute het die woorde hortend uitgekom en ek het jou probeer vertel. Jy was eers doodstil. Jy het net albei my hande styf in joune vasgehou. Dit het gevoel of die verstaan deur jou hande vloei tot in my hart en ek het diep binne-in my baie stil geword. Na ’n ruk se stilte het jy my ken opgelig met jou voorvinger, my diep in my oë gekyk en gesê: “Ek glo jou. En ek is jammer.” ‘n Stukkie van my genesing het daardie dag begin...


Dankie dat jy my geleer het van prosa wat jou lesers moet aangryp, poësie wat altyd naak en eerlik en uit die hart moet kom... Van klankpatrone, punktuasie (waarmee ek nogsteeds sukkel!), akronieme, sinonieme, antonieme, homonieme – en elke ander ‘niem’ wat jy aan kan dink. En van lidwoorde, voornaamwoorde, byvoeglike naamwoorde, telwoorde, lidwoorde, werkwoorde, bywoorde, voorsetsels, agtersetsels, tydsvorme, sinne, anekdote, ensovoorts, ensovoorts... Dis nogsteeds vir my ’n nagmerrie en ek foeter dit partykeer goed op, maar dankie dat jy probeer het! Marthinus, dit kan ek jou belowe: Jy het saad in baie jong lewens gesaai wat vandag nog amazing oeste oplewer.


Na jou ‘skooljare’ het mense jou beskou as ’n literator, navorsingsgenoot, akademikus, poësiekenner en elke ander mooi akademiese naam wat jy aan kan dink. Vir ons as jou oud-leerlinge was jy ’n mensch wat ons ten minste probéér verstaan het en nie net die wit waks uit seuns geslaan het of meisies vergil het omdat hulle nie jou vak ‘gesnap’ het nie. Ons kon net onsself wees by jou. En dit was só lekker. Jy was ‘n awesome onnie!


Jy het ons ook geleer om brutaal eerlik te wees. So laastens wil ek net vir jou sê dat ek dink dis regtig selfsugtig van jou dat jy hierdie wêreld beroof het van jou uniekheid en menswees en ja, jou ‘literêre kritiek’. Maar omdat ek so ’n sagte plekkie het vir jou in my hart het en altyd sal hê, wil ek vandag jou ken oplig en vir jou sê: “Ek glo jy het gevoel jy het rede gehad. En ek is jammer.”


O Captain! my Captain! our fearful trip is done, The ship has weather’d every rack, the prize we sought is won...


Met baie liefde en ’n BAIE seer hart,


Nicci Coertze (of Nicolene Potgieter soos jy my geken het)

Banking details:
Nicci Coertze Inc.
Capitec Savings
Account no: 1358502534
Branch code: 470010
Proof: nicci@vox.co.za.

  • Facebook
  • Twitter
  • YouTube
  • Pinterest
  • Instagram