• Nicci Coertze

'N AMPER-GEDIG OOR DOOD VIR MY VRIENDIN LIZETTE

Ek gee nie om wat mense sê van

"Die dood is 'n wins'

of

"God het Sy mooiste blom kom pluk"

of

"Sy is nou in 'n beter plek"

of enige ander goedvoel woorde

om mense se intense onbeholpenheid

met die harde realiteit van die dood

te help kamoefleer nie.

God pluk nie blomme nie, Hy het genoeg.

Verduidelik vir my 'beter plek'.

Want ek is selfsugtig.

En vir my is "'n beter plek" reg by haar hartsmense

Waar hulle haar kan hoor lag

En haar kan voel

En haar kan sien

Nie die hemel of die hiernamaals nie

Maar hier en nou.

En vir my voel dit tans dat haar dood

absoluut geen wins is nie

Net seer

En trane

En hulpeloosheid

Maar in teënsinnige eerlikheid is die dood ook:

Ongekende vrede.

Die voorreg om iemand baie spesiaal te kon ken.

Soet herinneringe...

'n Vaste wete...

Dat niks maar niks

Groter as die liefde is nie.


*****


Rus in vrede liefste Zettie. Wat 'n ongelooflike voorreg om jou te mag geken het, om jou vriendin te kon wees en om ons seunskinders saam te kon grootmaak. Dankie vir ure se gesels en lag langs rugby- en krieketvelde regoor Suid Afrika. Vir honderde (indien nie duisende!) kilometers se lag en kekkel in jou Grand Scenic. Vir die saamlag en saamhuil op Laerskool Fontainebleau se skoolgronde. Dankie dat ek ALTYD by jou kon stop vir 'n 'trosie' - jou lekker koffie (en altyd iets lekker te eet) en 'n warm drukkie. Met jou sagte stem en bokkie oë kon jy enige seer in 'n japtrap 'fix'. Jou daarwees vir Nathin en Kevin en jou matelose liefde vir Jaedintjie (en al die bederf!) sal ek nooit ooit vergeet nie en ek sal seker maak dat hy ALTYD weet en onthou dat toe hy maar 'n paar asems oud was, daar 'n tannie Zettie was wat hom liewer as lief gehad het! Dis een ding om vriendinne te hê. Dis 'n ander ding om vriendinne te hê wat vir jou kinders so lief is soos wat jy vir myne was. Die wêreld het 'n engel verloor. En 'n fenominale hart van goud wat altyd net oorgeloop het met liefde en omgee vir ander.


My hart huil oor jou Zettie. Ek kon nie eers bye sê nie. Daar is regtig nie tyd vir tydmors nie!


Al my liefde,


Nicci xx


Banking details:
Nicci Coertze Inc.
Capitec Savings
Account no: 1358502534
Branch code: 470010
Proof: nicci@vox.co.za.

  • Facebook
  • Twitter
  • YouTube
  • Pinterest
  • Instagram